Blou Oog

So elke nou en dan, en veral in vakansie tye, was daar ‘n partytjie gehou op ‘n plaas êrens in die distrik. Ons jong mense, as ons nie deur ‘n ouer vergesel was nie, het altyd ‘n ry-geleentheid gesoek met iemand wie ons geken het, of iemand aangeraai deur die mense wie die partytjie gehou het.

Die eienaars van Wagenaarskraal was bekend vir hulle gasvryheid en hulle het altyd lekker partytjies gehou in hulle wolskuur. Die musiek was meestal die van langspeel plate van Ray Conniff dans musiek, boeremusiek en 1950’s pop. Dit was net Bill Hayley en sy Comets en Jerry Lee Lewis, Gene Vincent, Edddie Cochrane en Little Richard en die tyd voor die Beatles begin musiek maak het. Maar ons was daar vêr in die gamadoelas en die populêre musiek het maar skaars by ons aangekom.

Ek en sy was albei 15 en ons was goeie pêlle. Dié aand by die partytjie het dinge goed verloop. Ons het lekker gedans en toe besluit ons om ‘n draai te loop. Miskien om ‘n sigaretjie to rook of miskien so ‘n paar soentjies in die donker te steel. Nouja die soentjies het dinge warm gemaak en ons raak dik aan die vry agter in iemand se kar. Nou niks ernstigs nie, net baie gryp en voel en soen ensovoorts van beide kante af. ‘n Jongmens kan mos ligkoppig raak by hierdie geleenthede.

Ons was onbewus van die jonger mense in die skadus wat sit en loer. Die agter venster van die kar was oop en daar kom ‘n bui water in uit die mond van ‘n emmer reg oor ons. Jislaaik maar ons skrik. Daar hoor ek hoe lag die spul in die donkerte. Ek vlieg uit die agtersitplek uit en hardloop na die gelaggery. Hier hardloop T voor my uit en ek gryp hom aan sy kraag. “Jou klein kak” sê ek nogal en skop hom hard onder sy sitvlak. Hier kom sy ouer broer P uit die skadus uit en sê “ Haai ou Boetie, maar jy kannie sommer vir my kleinboetie so skop nie!” Al was P nou wel groter as sy kleinboetie T, het ek hom ook dieselfde straf uitgedeel. Maar ons het dit so lag-lag gedoen en ek dink nie dat daar enige wangevoel was nie.

So gaan ek terug na die agtersitplek van die kar maar die oomblik was daarmee heen en ons is toe skielik uitgesêls. Toe loop ons maar terug na die Wolskuur vir iets om te eet en nog ‘n paar danse.

Ek was heerlik onbewus wat in die agtergrond aangaan toe Oom Boet, T se Pa vir my voor die bors gryp aan my hemp. Oom Boet was nie homself nie maar hy was ‘n stewige man met harde hande en ek was maar ‘n skraal outjie van 15 jaar.

“Wat mors jy met my kinders” sê hy aan my, en in een beweging slaan hy my met sy regter vuis hard op my linkeroog. Ai! Ek sien net sterre en val op die dansvloer neer. Gou-gou is daar mense om my en my meisie is ook in trane and die hele spul is ‘n gemors. Die groot mense vat vir Oom Boet opsy en sê vir hom dat hy moet huistoe gaan. Iemand kom uit die kombuis aan met ‘n stuk vleis om oor my arme oog te sit maar dit help niks want dit was nie lank nie toe lyk my oog soos ‘n ghoen!

Die volgende dag is ek weer by die huis en Oom Boet bel en vra om verskoning. Vra toe om verskoning by my Ma en Pa. Wat kan ‘n mens sê? My oog is pikswart en hele dorp weet van die episode daar by Wagenaarskraal.

En dis nou 50 jaar en ‘n bietjie later. Oom Boet, P en T is almal afgesterwe, my meisie van die aand woon nog steeds in Johannesburg so vêr ek weet, en ek sit al lank hier diep in Australië.

Ek kan nog die laaste fingers van die geslote vuis sien voor dit met my oog kontak gemaak het !

Posted in Life Stories.